Romeine 1

Agtergrond
Die pad na Rome is jou pad van ongeloof na redding. Ons gaan vir die volgende 13 weke hierdie besondere boek bespreek. Ons gaan dit doen aan die hand van verskillende predikers se boodskappe. Vir die eerste hoofstuk gebruik ons die volgende video: [ First, the Bad News ], deur Gary Hamrick, 43 minute.
In sy skrywe aan die gemeente in Rome kyk Paulus na die evangelie vanuit die oog van die voltooide werk van Jesus Christus, en ons sien in Filippense 3 hoe dit in sy lewe realiseer. Kom ons verseker eers dat ons verstaan wat Filippense 3 vir ons leer. Paulus verduidelik sy agtergrond, en dit lees soos die van ‘n baie bevoorregte persoon, met die nodige kwaliteite om in sy lewe enige iets te bereik:
- Hy is besny, en dit is die begin van sy lewe as ‘n toegewyde Jood.
- Hy is uit die regte nasie, Israel, wie God se uitverkore nasie is.
- Hy is uit die regte stam, Benjamin.
- Hy is ‘n Hebreër.
- Hy is religieus aan die regte kant van twee groepe, ‘n Fariseër, ‘n voorstander van die Torah.
- Hy doen polities die regte ding vir sy tyd, en is ‘n fanatiese vervolger van die Kerk.
- Hy tree reg op wat die wet betref, onberispelik, en hou by die Joodse wet tot die letter.
Al hierdie dinge het in sy guns getel, maar om die wil van Christus uit te leef, was nou belangriker, en nou sien hy die sewe punte hierbo as skade. Vir hom is die besnydenis nie meer belangrik nie; hy behoort nie meer eksklusief aan een volk nie, maar aan die Kerk; sy stamverband is irrelevant; sy eie mense, die Hebreërs, is teen hom; hy is nou in konflik met die einste groep van wie hy deel was; hy veg nou vir die Kerk wie hy vervolg het; en die wet is nou vir hom nutteloos. Hy beskou dit as drek (Eng “dung”, Filippense 3:8) om Christus as wins te kry. Al hierdie dinge berei hom voor om die brief aan die gemeente in Rome te skryf.
Rome het bestaan uit ongeveer een miljoen mense van verskillende agtergronde. Die samelewing was gekenmerk deur onsedelikheid en verval. Die godsdiens beskouing was politeïsties. Hulle het Griekse mitologie aangehang, en het die keiser aanbid. Uit die aard van die saak het dit ingedruis teen die monoteïstiese siening van die Jode en Christene, en het tot die dood van duisende Christene gelei.
Die kerk in Rome is deur bekeerde Jode begin wie in Jerusalem was tydens die uitstorting van die Heilige Gees in Handelinge 2. In 49nC is hulle deur Claudius verban (Handelinge 18:2), maar keer vyf jaar later weer terug. Die kerk het egter intussen baie verander, en daar was baie konflik. Keiser Nero het vir 14 jaar regeer, vanaf 54 to 68 nC, en die brief is in ongeveer 57-58 nC geskryf terwyl Paulus in Korinthe was (Handelinge 18). Paulus was op hierdie stadium nog nooit in Rome nie. Die rede vir die brief was om die konflik tussen die Joodse en heidense Christene aan te spreek, en beide die Kerk en Israel se toekoms aan te dui as deel van God se plan vir beide. Hy wou ook Rome die basis maak vir toekomstige reise na Spanje. Sien Romeine 15:24.
Daar is ‘n paar sleutelwoorde wat meer in hierdie brief verskyn as in die ander briewe. Evangelie (εὐαγγέλιον – “goeie nuus”) in vers 1 kom 12 keer in die brief voor. Die goeie nuus is dat dit nie saak maak wat jy in jou lewe gedoen het nie. Alle sonde word vergewe as jy jou geloof in Jesus Christus plaas. Die woord genade (χάρις, “charis”) verskyn 26 keer in die brief en geloof (πίστις, “pistis”) verskyn 39 keer.
Die evangelie beteken goeie nuus, en dit is Paulus se fokus, maar daar is beide goeie nuus en slegte nuus in die brief aan die Romeine.
- Die goeie nuus is dat dit geloof in Jesus Christus is en wat Hy vir ons gedoen het wat tot ons redding lei, deur die genade van God.
- Die slegte nuus, en ons moet dit eers verstaan om later die goeie nuus te waardeer, is waarvan ons gered is, die toorn van God. Die woord toorn (ὀργή, “orge”) word 13 keer in Romeine gebruik. Ons vind dit die eerste keer in vers 18.
Hoofmomente in hoofstuk 1
- Paulus stel homself eerstens voor as ‘n dienskneg. Die Grieks is δοῦλος (doulos; slaaf). Die woord het egter groter betekenis. ‘n Doulos was ‘n slaaf wie vry was, maar wie gekies het om by sy meester te bly. Sien Lukas 9:23. Hier sien ons hoe Jesus noem dat as jy Hom wil volg, moet jy jouself verloën, jou kruis opneem, en Hom volg. Jy is vry, maar aan Hom verbonde. Dit is jou keuse.
- Tweedens noem hy homself ‘n apostel. Hy sou ook die laaste apostel wees aan wie Jesus sou verskyn, maar was nie deel van die oorspronklike 12 apostels nie (1 Kor 15:8). Die woord “apostel” was aanvanklik nie in ‘n Bybelse konteks gebruik nie. Die woord het beteken om ‘n verteenwoordiger te wees en gestuur te wees, die opdragte van die keiser uit te voer, en jou wêreld verander sodat dit soos Rome word. Jy was dus ‘n voorganger wat verandering wou bring. As ‘n apostel van Jesus Christus, het Paulus die outoriteit gehad om dinge ten goede te laat verander. Hy is nou Jesus Christus se voorganger en verteenwoordiger vir die heidene.
- Derdens is hy afgesonder tot die evangelie. Dit het sy enigste fokus geword en dit is sy nuwe identiteit in Jesus Christus. Alles wat hy gehad het of was, was nou vir hom nutteloos (drek).
- Die evangelie was reeds in die Ou Testament gemeld, en die pad na Christus het deur Dawid geloop.
- Die evangelie het vir ons die genade gegee om gered te word. Ons is geroep om gered te word.
- Paulus meld dat hy weet dat ander mense oor die gemeente in Rome praat en hulle oral bekend is, en hy soek ‘n rede om hulle te kom besoek sodat hy hulle kan bemoedig, maar hy is tot nog toe verhinder.
- Hy wil aan hulle die evangelie verkondig omdat hy hom nie daarvoor skaam nie, en omdat die evangelie tot redding van beide die Jode en die Grieke (heidene) lei. Vers 16-17 is die kern van die evangelie. Ons leef deur niks anders nie as die geloof en ons skaam ons nie daarvoor nie.
- Paulus verduidelik die toestand van die natuur van die mens wie sonder die geloof is (18-25; Matt 24:12) en wie doelbewus God uit hulle lewens sluit. Daar is drie slegte kategorieë waarin die mensdom geklassifiseer word, wat Paulus in die eerste twee hoofstukke uitwys:
- Die ongeregtiges ervaar God deur die natuur (Rom 1:18-25). Hulle
- ontken die waarheid van die bestaan van God (vers 18);
- kan Hom ken deur die natuur (vers 19-20);
- het dom geword en verheerlik Hom nie (vers 21);
- hou hulself egter slim (vers 22);
- maak vir hulself afgode (vers 23); en
- ruil die waarheid vir die leuen en verander die volgorde. Self vandag gee ons meer aandag aan die probleme van die wêreld as wat ons aan God gee (vers 25). Ons het Hom van eerste na derde geskuif – natuur, mens, God. Kyk maar hoe gaan die “tree huggers” en die “Just Stop Oil” beweging op straat te kere.
- Die self regverdiges ervaar God deur hulle gewete (Rom 2:1-16); en
- Die oormatig regverdiges is die Jode (Rom 2:17-29; 3:9-24).
- Die ongeregtiges ervaar God deur die natuur (Rom 1:18-25). Hulle
- Al drie groepe
- is goddeloos en ongeregtig;
- onderdruk die waarheid (Joh 14:6; 2 Thess 2:10) en hang die leuen aan;
- ontken dit wat oor God in hulle openbaar is;
- verheerlik en dank Hom nie as God nie;
- se oorlegginge (denkwyse) is dwaas;
- se harte is verduister;
- erken nie die Goddelike karakter van God nie, en maak eerder beelde daarvan wat soortgelyk is aan mense en diere.
- Gaan kyk nou die tweede video in die reeks: When a culture excludes God.
- Die wêreld se standaarde reken dat die mens inherent goed is. Dit staan teenoor wat God van mense sê, dat die mens inherent boos is (vers 23). Ons leef vandag in ‘n bose samelewing wat God uitsluit. Wette en woorde word verander om die werklike betekenis daarvan te verskuil.
- Omdat hulle hierdie goed gedoen het, het God hulle oorgegee om dit te doen wat hulle graag wou, en die loon daarvoor te kry (2 Thess 2:11-12). Hulle het die waarheid vir die leuen verruil.
- Die gevolg is dat hulle oorgegee is aan seksuele wanpraktyke (26-27).
- Hulle word ook oorgegee aan sonde en ‘n slegte gesindheid (Eng. “debased”, “reprobate”, Gr. ἀδόκιμος, adokimos; [a in Grieks dui op ‘n negatief] nie toegelaat nie, nie aanvaarbare, waardelose, verworpe) (28).
- Omdat hulle nie die moeite gedoen het om vas te stel hoekom hulle verkeerd is nie, het God hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid (29-31).
- Nie alleen doen hulle hierdie goed nie, maar hulle haat God (vers 30). Kyk maar na die linkses se optredes op Amerikaanse universiteit kampusse; die BLM beweging (‘n ateïstiese, demoniese beweging wat eintlik niks omgee vir die lewens van swartes nie); en ander linksgesinde weerstand groepe – al die “woke” ondersteuners, waar hulle ook al mag wees.
- Nog erger, alhoewel hulle geweet het dat hulle die dood verdien, het hulle nie alleen voortgegaan het om dit te doen nie, maar het ook ander se soortgelyke dade goedgekeur. Omdat hulle nie in God glo nie, glo hulle ook nie in God se oordeel nie.
- As hierdie dinge so lank terug al gebeur het, hoeveel erger is dit nie in ons tyd nie?
Bespreking
- Is Romeine vir die mense van Paulus se tyd geskryf, of vir ons tyd ook? Motiveer.
- As jy net een teksvers moes neem wat jy vir iemand kan gee as verteenwoordigend van Romeine 1, wat sal die teks wees? Motiveer.
- Lees Romeine 2 as voorbereiding vir die volgende lesing.
- Romeine 1
- Romeine 2
- Romeine 3
- Romeine 4
- Romeine 5
- Romeine 6
- Romeine 7
- Romeine 8
- Romeine 9
- Romeine 10
- Romeine 11
- Romeine 12
- Romeine 13
- Romeine 14
- Romeine 15
- Romeine 16