
In die boek Eségiël sien ons hoe die skrywer die opdrag kry om Israel, tans in ballingskap, te waarsku. Dit word gedoen aan die hand van die brandwag op die muur, wie ‘n waarskuwing aan die mense moes bring indien daar gevaar is. Kom ons lees Eségiël 33. Twee uitkomstes word gegee.
- Die brandwag word aangestel. Hy sien die moeilikheid kom, blaas met die basuin, en waarsku die mense. Indien mense nie ag slaan op die waarskuwing nie en hulle word oorrompel, is hulle skuldig, nie die brandwag nie. Sien vers 2-5.
- Die brandwag sien die moeilikheid kom maar waarsku nie die mense nie, en hulle word oorrompel, en die brandwag is skuldig aan hulle dood. Sien vers 6.
Eségiël is hierdie brandwag wie deur die Here aangestel is om sy Woord aan Israel te gee. Die goddelose moet oor sy optrede gewaarsku word. Indien nie, is Eségiël self skuldig indien die goddelose in sy sonde sterf. Sien vers 8. Indien die profeet wel die mense oor hulle goddeloosheid waarsku, en hulle luister nie, sal hulle in hulle sonde sterf, maar die profeet is onskuldig aan hulle dood.
Nou volg een van die belangrikste gedeeltes in die Bybel:
11Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel? – Eségiël 33:11
Net so min as wat die Here in daardie dae wou sien dat Israel ten gronde gaan en mense in hulle sonde sterf, net so min wil Hy vandag sien dan mense ongered sterf. Dit beteken die verantwoordelikheid is op die leraar om die Woord suiwer te verkondig en die mense te waarsku oor hulle sonde. Ongelukkig word dit nie meer in ons kerke gedoen nie. Eerder as dat die gevolge van sonde, bekering tot Christus, en heiligmaking geleer word sodat Christus in ons gestalte kry, word mense vertel hoe hulle beter kan word, hulleself ontdek, en hulle unieke persoonlikhede uitleef. Sonde word afgemaak as iets wat “in konteks” gesien moet word en dat die liefde van God alle sonde vergewe, of jy dit bely of nie. Hierdie leraars waarsku nie die kudde oor die gevolge van hulle sonde wat op hulle afstorm nie.
Wanneer die leraar se verantwoordelikheid nie meer relevant is nie
Daar kom ‘n tyd wanneer die leraars wie net vir hulleself sorg, egter ook nie meer verantwoordelik is vir wat met die individue in die kudde gebeur nie. Die individuele lid het self die verantwoordelikheid om toe te sien dat hy geestelik groei. Jy moet self kan raaksien as daar fout is. Dit is waar vers 11 van toepassing is. God wil nie sien dat enige persoon verlore gaan nie, maar dat hy hom bekeer van sy verkeerde weg. Hierdie boodskap word ook duidelik in Handelinge 2:38 gegee. Net omdat die brandwag nie die kudde waarsku nie, gee dit hulle nie ‘n vrypas om te doen wat hulle wil nie. God roep jou as individu om ook self na jou eie lewe te kyk en jou te bekeer van jou verkeerde weg. Jy moet self aktief optree. Op die dag van Pinkster toe die Heilige Gees uitgestort is en mense sien en hoor wat gebeur het, vra hulle vir Petrus wat hulle moet doen. Sy antwoord was die volgende:
38En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. – Handelinge 2:38
Later doen Petrus die volgende oproep:
19Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom, – Handelinge 3:19
Twee woorde is hier belangrik – inkeer en bekeer. μετανοέω is die Griekse woord metanoeo en dit beteken ‘n verandering van hoe jy dink. ἐπιστρέφω is die Griekse woord epistrephō en dit beteken draai na of draai terug. Wat Petrus dus hier vra, is twee aksies wat een gevolg sal hê. Verander hoe jy dink oor sonde en draai weg daarvan sodat jou sonde vergewe kan word.
Kom ons kyk wat ware bekering is.
- Ware bekering is meer as net woorde. Dit is ‘n kragdadige aksie om dit wat gesê is, ‘n werklikheid te maak.
- Ware bekering is die transformerende werk wat die Heilige Gees in die sondaar bewerkstellig, ‘n werk wat veranderend en blywend is.
- Dit is die wegdraai van sonde af en die draai na Jesus Christus, ‘n 180 grade omkeer.
- Dit is die haat vir die sonde en die liefde vir regverdigheid.
- Ware bekering is ‘n verandering van die hart, nie net van intensies nie.
Johannes die Doper het dit as volg beskryf:
8Dra dan vrugte wat by die bekering pas. – Matthéüs 3:8
Die verandering wat innerlik plaasgevind het (die groei van die boom), sal uiterlik sigbaar wees (die vrugte wat die boom lewer). Meeste mense se bekering is vals omdat hulle ‘n gerieflike bekering soek.
- Hulle soek verlossing van sonde om beter te voel, maar nie bekering om beter te wees nie.
- Hulle soek Jesus in hulle gemaksone, maar wil nie hulle kruis opneem en Hom volg nie.
- Hulle soek vergifnis van die gevolge, maar nie transformasie om ‘n heilige lewe na te streef nie.
- Hulle soek verlossing van die hel, maar wil nie deur Jesus Christus beheer word nie.
- Hulle soek die hemel as finale bestemming, maar nie die heilige lewe wat die vereiste is nie.
Watter tipe bekering is in jou lewe sigbaar? Haat jy werklik sonde omdat God dit haat, bely dit, en laat dit staan of is jou bekering eenvoudig omdat jy skuldig voel oor wat dit aan jou reputasie doen? Ware bekering is op God gefokus en hoe jy Hom kan dien. Valse bekering fokus op jouself en jou gemak.
Slotsom
Jy sal ‘n keuse moet maak. Jy kan nie beide die wêreld en God aanhang nie. Onthou die teks wat ons die vorige week aangehaal het:
Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. – 1 Johannes 2:15