Jou huigdige tentwoning is net tydelik. In die toekoms kry jy iets veel beter.

Ysbreker
Wat se skete jy het, as jy bereid is om daaroor te praat? Ek het sommer baie. Dan sukkel ek dikwels om eenvoudige goed te onthou. Dit was nie altyd so nie.
Die tentwoning
Paulus fokus in ‘n gedeelte van sy skrywe aan die gemeente in Korinthe op die tydelike aard van ons lewe op aarde, en meet dit aan dit wat ons eendag te wagte kan wees. Ek deel met jou ‘n paar punte hieroor. Lees eers 2 Korinthiërs 4:16 – 2 Korinthiërs 5:10.
16Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. 17Want ons ligte verdrukking wat vir ’n oomblik is, bewerk vir ons ’n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; 18omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. 1Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ’n gebou het van God, ’n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele. 2Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word, 3as ons ten minste gekleed en nie naak bevind sal word nie. 4Want ons wat nog in die tent is, sug en voel beswaard, omdat ons liewer nie ontklee nie, maar oorklee wil word, sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word. 5Maar Hy wat ons juis hiervoor toeberei het, is God, wat ons ook die Gees as onderpand gegee het. 6Daarom het ons altyd goeie moed en weet dat as ons in die liggaam inwoon, ons van die Here uitwoon. 7Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie. 8Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon. 9Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe, of ons inwoon of uitwoon, om Hom welbehaaglik te wees. 10Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad. – 2 Korinthiërs 4:16 – 2 Korinthiërs 5:10
- Ons kyk na onsself soos wat ons ouer word en sien hoe ons liggaam agteruit gaan. Dink maar aan jouself. Dalk kan jy nie meer so lekker opstaan as jy eers gesit het nie. Miskien sukkel jy om goed te onthou. Siektes breek hierdie liggaam af, vir ander oor ‘n korter of langer tydperk. Hoe ook al, hierdie liggaam is tydelik. Die tentseile skeur en die tentpenne trek los.
- Paulus verduidelik dat ons nie moed moet opgee nie. Ons sien wat gebeur, maar soos wat die liggaam agteruit gaan, word die gees elke dag nuwer (4:16).
- Ons lewe op aarde is kort, ‘n oomblik soos hy dit stel (4:17), maar dit is nodig sodat iets beter daaruit kan voortkom. As ons ‘n visie vir die lewe het, fokus ons nie op dit wat ons nou sien gebeur nie, maar op die toekoms wat tans nog onsigbaar is (4:18).
- Om hierdie gedeelte op te som, net dit: soos wat die vlees verswak, versterk die gees.
- As gelowiges het ons die versekering (weet, 5:1) dat wanneer hierdie liggaam tot niet gaan, ons nie meer in ‘n tent sal bly nie, maar in ‘n gebou.
- Die verwagting van dit wat ons sal wees, is so oorweldigend dat dit die huidige situasie sal laat voel asof ons naak is (5:3).
- ‘n Interessante stukkie inligting is in vers 5. Ons het die Gees as onderpand. ‘n Ander vertaling stel dit dat God ons die Gees as ‘n deposito (belofte) gee, en bevestig so dat dit wat Hy ons nou gee, net die begin is, maar belowe dat die balans (die verheerlikte liggaam) ons kant toe kom sodra ons hierdie tentwoning afgelê het.
- Paulus skryf dikwels aan gemeentes oor die geloof en ‘n verwagting vir die toekoms wat ons tans nie kan sien nie. Kyk mooi na vers 7. Ons leef tans deur geloof (‘n verwagting van dit wat sal wees) en fokus
- Ons leef nou in gehoorsaamheid (vers 9) in hierdie liggaam omdat daar ‘n dag sal kom wanneer ons rekenskap moet gee van dit wat ons met die tydelike liggaam gedoen het (vers 10).
- As ons oorkoepelend na hierdie teksvers kyk deur die bril van die studie van Eskatologie, dan verwys dit na rekenskap wat ons moet gee oor dit wat ons as gelowiges tydens ons lewe gedoen het. God eis egter rekenskap van ons oor wat ons met ons eie liggaam gedoen het, ja selfs die een wat net tydelik is. Het jy jou liggaam gebruik om diensbaar te wees, of het jy geleenthede vermors. Daarmee saam gaan hoe jy hierdie liggaam behandel het. Het jy dit versorg, of doelbewus afgeskeep?
Slotsom
Ek noem dikwels vir mense rondom my dat God stadig maar seker besig is om ons voor te berei om Hom te ontmoet deurdat die liggaam swakker word sodat die gees sterker kan word. Ons weet dat vlees en bloed nie die koninkryk kan God kan beërwe nie (1 Korinthiërs 15:50). Om hierdie rede word die liggaam blootgestel aan verderwing, sodat ons eendag met ‘n onverganklike liggaam beklee kan word. Hierdie geloof is die vertroue op dit wat ons tans nie sien nie, maar waarop ons hoop. Ek dink dit is iets om na uit te sien.