Hou vas wat jy het

In elkeen van die briewe aan die sewe gemeentes in Asië soos ons dit in Openbaring 2 en 3 lees, is daar dringende raad wat ek en jy vandag nie kan ignoreer nie. Kom ons kyk hierna:
- Éfese – Bekeer jou en doen die eerste werke (Openbaring 2:5)
- Smirna – Wees getrou (hou vas) tot die dood toe (Openbaring 2:10)
- Pérgamus – Bekeer jou (Openbaring 2:16)
- Thiatíre – Hou vas wat jy het (Openbaring 2:25)
- Sardis – Bekeer jou (Openbaring 3:3)
- Filadelfía – Hou vas wat jy het (Openbaring 3:11)
- Laodicéa – Bekeer jou (Openbaring 3:19)
Die oproep om bekering word vier keer gedoen. Die oproep om vas te hou wat jy het, word drie keer gedoen. Kyk na hoe dit repeteer: bekeer; hou vas; bekeer; hou vas; bekeer; hou was; bekeer. Die boodskap is duidelik.
Wat vertel dit vir my en jou? Ses van die sewe gemeentes het in moeilike omstandighede gefunksioneer. Dit was net die gemeente in Laodicéa wat dit maklik gehad het en dit was tot hulle nadeel. Vir almal egter is die boodskap dieselfde: bekeer jou en hou vas aan wat jy het.
Kom ons verstaan die frases reg. “Bekeer jou” beteken nie jy is tans ongered nie. Jy is immers alreeds deel van die kerk. Dit het dus niks met wedergeboorte te doen nie. Wat dit wél beteken is dat jy jou van jou verkeerde optrede (sonde) moet bekeer en daarvan af wegdraai. Die tweede frase “hou vas wat jy het” verwys na daardie eerste liefde wat jy vir die evangelie gehad het. Dit is jou behoud en dit is waaraan jy moet vashou. Dalk is dit tyd dat ons die ander goed los waaraan ons so verbete vashou sodat ons genoeg hande het om aan ons eerste liefde vas te hou, soos Jesus aan die gemeente in Smirna dikteer. Sien Openbaring 2:4.
Soos wat die dae minder word en die tyd boser, onthou Jesus se woorde aan die sewe gemeentes, verteenwoordigend van die Kerk vandag. Indien jy dit nie doen nie, gaan lees in hierdie sewe briewe wat sy waarskuwing is vir diegene wie nie uitvoering aan sy opdrag gee nie.