Jou eerste liefde

Jou eerste liefde
Bestudeer Openbaring 2:1-7
Onthou jy nog toe jy tot bekering gekom het? Jy was gelukkig, wou jou nuutgevonde redding met almal deel, en jy het gevoel jy is werklik deel van die Liggaam. Jy het geestelik gegroei en betrokke geraak by baie aktiwiteite. Soos die tyd egter aangegaan het, het jy besiger geword, meer aandag aan ander goed gegee, en minder aan jou persoonlike groei en die bron van daardie groei. Jy het dit nie eintlik agtergekom nie. Toe eendag, kry jy ‘n brief van Jesus af, en dit skud jou fondamente. Jy is toe nie so suksesvol as wat jy gedink het nie. Die brief vertel van die goeie goed wat jy gedoen het – die baie betrokkenheid – maar dit vertel ook vir jou dat jy jou fokus verloor het en eintlik weg gedryf het.
Werke, arbeid, lydsaamheid, op die proef stel, en nie moeg word nie – al hierdie goed wat ons in ons kerk of gemeenskap doen as gelowiges, selfs meer diegene wie in die bediening van die Woord betrokke is, is goed, maar dit is eintlik net werke, niks meer nie. Meeste van ons doen hierdie goed omdat dit sigbaar is; dalk omdat ons in die openbaar krediet daarvoor sal kry.
Jou eerste liefde is dit wat eens die prioriteit in jou eie lewe was. Wat is jou eerste liefde? Indien dit nie Jesus Christus is nie, is daar ‘n probleem en is jou prioriteit verkeerd.
Die brief wat Johannes aan die gemeente in Éfese skryf, spreek uit die aard van die saak nie net indiwidue aan nie, maar die betrokke gemeente in die stad. Dit is baie maklik vir die kerk vandag om deur uiterlike vertoon en verskillende programme besig en betrokke te lyk, maar die Een oor wie dit eintlik gaan, word op die kantlyn geplaas. As die werklike fokus nie meer daar is nie, verloor die beweging sy doel.
Ons moet verstaan dat die briewe in Openbaring 2 en 3 in elke geval gerig is aan “die engel” – die leier of pastor van die gemeente. Dit is ook in die tweede persoon, en gebruik tweede persoon voornaamwoorde. Kyk na die brief aan die ontvanger in Éfese:
- Jou (vers 2, 4, en 5)
- Jy (vers 2, 3, 4, 5, en 6)
Daar kan dus geen verwarring wees oor wie aangespreek word nie. Die werklikheid is egter dat nie net die gemeente nie, maar ook indiwiduele lede aangespreek word. Ons moet nie vergeet nie dat die einste Johannes wie die brief moes skryf, ook voorheen ‘n leier in die gemeente in Éfese was. Dit moes hom hard getref het toe Jesus hierdie woorde dikteer en hy terugdink aan ‘n vorige insident. Kom ons blaai na Johannes 21:19. Jesus verduidelik hoe Petrus Hom sou verheerlik en gee hom hierdie opdrag:
Volg My.
Petrus vra verder uit oor wat met Johannes sou gebeur en Jesus sê vir hom die volgende:
22Jesus antwoord hom: As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan? Volg jy My. – Johannes 21:22
Ons is dikwels so gefokus op wat andere doen, selfs in die kerk en in die bediening, dat ons van onsself vergeet. Jesus sê reguit vir Petrus dat hy hom nie oor Johannes moet bekommer nie en wat met hom gebeur niks met Petrus te doen het nie. Lees wat sê Jesus vir hom:
Volg jy My.
Die probleem is wanneer jy jou eerste liefde verlaat en Hom nie meer volg nie. Jesus stel dit duidelik dat Hy dit teen jou het dat jy jou eerste liefde verlaat het; agtergelaat het. Jy word gewaarsku:
- om te onthou waarvandaan jy uitgeval (geval, weggedryf) het;
- om jou te bekeer; en
- om die eerste werke, dit wat jy as ‘n nuwe gelowige gedoen het, weer te doen.
Die uiteinde as jy dit nie doen nie, is dat jou kandelaar verwyder word – jou posisie in Christus. Hoe tragies is dit dat jy, as gevolg van die feit dat jy jou eerste liefde verlaat het, nie net Jesus Christus kwyt is nie, maar ook dit wat jy gedoen het, dit wat jou eens passie was.
Keer terug na jou eerste liefde en die toekomstige beloning is groot: om te eet van die boom van die lewe wat in die paradys van God is. Jesus het vir die rower gesê “Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees”, Lukas 23:43.
Bereken die waarde
Wat is jou eerste liefde vir jou werd? Meeste van ons is so gefokus om nou so veel geld as moontlik te maak, om nou so veel as moontlik goed te besit, en om nou so gerieflik as moontlik te leef, dat ons dalk lankal ons eerste liefde langs die pad van ons sukses agter gelaat het. Dit is waarteen ons gewaarsku word.
Jy moet self besluit watter werke jy bereid is om dalk tydelik opsy te skuif ten einde weer jou eerste liefde te vind. Daar is niks met finansiële voorspoed, besittings, en gerief verkeerd nie. Dit gaan oor jou prioriteite en jou fokus – dit wat wag wanneer nie jou geld, besittings, of gerief meer vir jou dividende gaan oplewer nie.