Monie op hulle opgee nie

Moenie op hulle opgee nie
Gedurende drie jaar het Jesus Christus saam met twaalf ouens ‘n pad gestap (Markus 3:13-19). Hierdie was meesal nie geleerde mense nie (Handelinge 4:13), alhoewel Matthéüs beslis finansiële vermoëns gehad het. Hy was immers ‘n belasting gaarder (Matthéüs 9:9-13). Meeste van hulle was gewone ouens, visvangers wie sekerlik dikwels nie so lekker gelyk of geruik het nie. Hierdie dissipels moes die basis vorm van die kerk wat later so volg. So het hulle gevorder van dissipels (volgelinge) tot apostels (gestuurdes).
Tussen hulle was egter een wie nie enduit sou volhou nie. Judas. Die Iskáriot. Die een wie Jesus sou verraai met ‘n intieme gebaar, ‘n kus. Die vraag is, indien Jesus geweet het dat Judas hom sou verraai, waarom het Hy hom nie sommer vroeg al laat loop nie. Waarom het Hy hom in die eerste plek gekies? Ons sien hierin God se groot genade vir ons – niemand word verwerp nie, selfs al laat ons Hom in die steek. Elkeen kry ‘n regverdige kans. Die verskil is egter wat ons met die kans maak wat ons kant toe kom. Dit bepaal waar ons opeindig.
Dalk sit jy vandag met so ‘n persoon in jou gemeente. Jy sien duidelik in sy optrede dat hy nie die vrug van die Gees wil openbaar nie. Dit is die een wie altyd anders is; dalk sommer net skuins is. Dalk is die persoon nog ‘n bietjie nader aan jou, in jou binnekring, soos die dissipels; dalk iemand in jou kantoor. Jy kon hom (of haar) al lankal laat gaan het, maar jy hou aan. Waarom? Omdat God die potensiaal in die persoon raaksien en jou teenwoordigheid dalk die verskil sal maak in sy toekoms.
Wat ons nooit moet vergeet nie is dat ons, ten spyte van wat die Woord ons leer oor die regte pad, nog steeds die keuse het om te besluit wat ons wil doen. Ons vrye wil is die een aspek waarin God nie inmeng nie, selfs al stuur dit vir ons op ‘n ramp af. Iemand het dit so beskryf, en ek haal dit in Engels aan:
If you knew the power of your will, you would give it back to God. – Anoniem
Ek weet nie wie dit gesê het nie, maar daar is ‘n harde waarheid daarin. Ons wil en die besluite wat ons neem is dikwels verkeerd.
Judas, en elkeen saam met hom in die groep van dissipels, hét die waarheid geken:
4En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle. 5Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken? 6Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. – Johannes 14:4-6
Nie een van hulle het dus ‘n verskoning gehad nie. Die vraag is egter dat indien Jesus geweet het dat Judas die pad byster sou raak, waarom Hy nie ingegryp het nie. Judas is die vervulling van ‘n profesie, soos ons in Psalm 41:10 vind:
10Selfs die man wat met my in vrede lewe, op wie ek vertrou het, wat my brood eet, het die hakskeen teen my opgelig. – Psalm 41:10
In ander vertalings is dit vers 9 van Psalm 41. Ek lees dit as volg in die KJV 1611 vertaling:
9Yea, mine own familiar friend, in whom I trusted, which did eat of my bread, hath lifted up his heel against me. – Psalm 41:9, KJV
Hoe tragies. Kyk mooi na die woorde van Jesus hier. Dit is nie as sulks so in die Nuwe Testament opgeteken nie, net aangehaal. My eie vriend, die een in wie Ek vertrou het, wie saam met My geëet het, het sy hakskeen teen My opgelig. Jesus kwoteer dit en die skrywer haal dit aan in Johannes 13:18. Om die hakskeen teen iemand op te lig dui nie sommer net op iets ligtelik nie. Dit is ‘n aggressiewe optrede, een wat die vertroue wat jy in die persoon gehad het, skend, en wat jou diep seermaak, amper iets soos “kicked in the guts”. Dit is wat Judas gedoen het. Ten spyte van al die lief en leed, die stofpaaie wat hulle vir drie jaar gestap het, slaap in die koue, dalk honger dae, die wonderwerke, en die intog in Jerusalem, het Judas sy rug op die Messías gedraai. Daar in die tuin in Getsémané, toe Jesus sien dat almal teen Hom draai, hoe het Hy Judas aangespreek?
50Maar Jesus sê vir hom: Vriend, waarvoor is jy hier? – Matthéüs 26:50
Vriend. Tot op die laaste het Jesus nie vir Judas sleg laat lyk voor die ander dissipels nie, selfs nie eers tydens die ete vroeër die aand nie. Judas het tot aan die einde sy vriend gebly, ongeag wat hy nou sou doen, om Hom met ‘n soen te verraai.
Wat leer ons hieruit?
Leiers, geestelike mentors, en almal wie in posisies is waar jy ‘n invloed op ander mense se lewens het, lees mooi: Moenie op mense opgee nie. Wat hulle uiteindelik doen is nie vir jou om te oordeel nie. Wees jy net al die tyd die voorbeeld. Ek het sulke situasies in my lewe gehad, en ek noem twee voorbeelde hier, een waar ek verkeerd was, en die ander nie.
Ek het as jong gelowige uit hardkoppigheid my eie pad geloop en my geestelike mentor agter gelaat. Dit het my vir 30 jaar lank gepla. Ek kon hom later opspoor en die besonderse vriendskap is herstel, sonder verwyt van sy kant af. Hierdie man het my nooit afgeskryf nie. Hy het my geestelike mentor gebly, ongeag van my eie optrede. In ‘n ander situasie het ek en ‘n vriend na meer as 20 jaar weer bymekaar uitgekom. Ons eerste woorde aan mekaar was “Ek het jou lankal vergewe maar wil dit so graag nou vir jou sê.” Ek was ‘n mentor vir hom destyds, en is dit nou nog steeds.
Jesus het wel geweet wat Judas sou doen. Ek en jy weet nie wat diegene naby aan ons gaan doen, of ons dalk aan hulle nie. Sy optrede is soveel meer motivering vir my en jou om nie op te gee nie op diegene wie aan ons toevertrou is nie. Jy dink dalk hulle slaan nie ag op jou pogings om hulle geestelik te lei nie. Iewers egter, word die saad geplant. Iemand anders maak dit dalk nat, maar God alleen laat dit groei deur sy Gees. Jy moet net plant en leiding gee, niks meer nie.
Uitdaging
Ek wil jou uitdaag om daardie persoon wie jy jare laas gesien het en opgegee het, te kontak en die verhouding te herstel. Moet net nie op hulle opgee nie.