Wanneer selgroepe reg funksioneer

Skep 'n geleentheid vir samesyn
As daar een aspek is wat ‘n selgroep of huiskerk laat misluk is dit wanneer daar geen samesyn is nie. “Samesyn” is omtrent die naaste in betekenis aan die Engelse woord “fellowship”. In ons selgroep / huiskerk is samesyn baie belangrik, soos wat ons dit met ‘n onlangse byeenkoms ervaar het.
Dit is nie altyd moontlik vir die hele groep om bymekaar te kom nie. Ons het daaraan gewoond geraak dat die getalle van week tot week wissel. Dit is asof die groeplede roteer, en hulle teenwoordigheid word deur omstandighede bepaal – verantwoordelikhede by die skool, by die werk, die toestand op die paaie in die laatmiddag, en die gesondheid van indiwiduele lede. Een geleentheid was egter baie spesiaal.
Sommer hier net voor sesuur daag twee van die lede op, eintlik net om ‘n koffie te kom drink, maar ek het geweet hulle gaan vir die aand hier wees. Hierdie egpaar het ‘n situasie om mee te deel en kan dikwels nie vir die volle duur van die aand hier wees nie. Soos die tyd verbygaan, het die ander ook opgedaag en teen sewe uur was ons voltallig, en die woonarea ‘n miernes van bedrywigheid. Sommiges, soos hulle gewoonte is, kuier in die kombuis, ander rondom die eetkamertafel, ander in die sitkamer, party buite.
Ek sit rustig en luister soos wat klein groepies gesels – hoe was jou dag op kantoor, wat dink jy van hierdie naweek se rugby, hoe het dit by die dokter gegaan, wat maak die kinders in die buiteland, hoe gaan dit by die skool, ensovoorts, alles daaglikse dinge maar belangrik vir elke persoon wie daarby betrokke is. Ek hou hulle dop en ervaar die werklike samesyn van mense met ‘n diverse agtergrond. Ek beweeg ongesiens tussen die groepies deur, sonder om iets te sê. Ek luister net. Ons aandete was pizza, en twaalf monde het dit sommer gou verslind, saam met koffie en tee.
Ons het oor Galasiërs gesels en my ysbreker was om vir elkeen ‘n strokie te gee met die nege vrugte van die gees, soos Paulus dit verduidelik (Galasiërs 5:22), maar saam met dit ook die godsvrug soos Petrus dit beskryf (2 Petrus 1:3-9). Daar is sestien woorde nou, en net een oorvleueling – selfbeheersing. Skielik word dit ‘n uitdaging: wie het watter vrug genoem in sy brief? Paulus en Petrus fokus nie op dieselfde aspekte nie, alhoewel daar oorvleueling is. Ek vertel vir hulle van die aanvanklike konflik (Galasiërs 2:11-14 en 2 Petrus 3:15-16) tussen hierdie twee apostels, Petrus die een wie die Here met sy eie oë gesien het en saam met Hom geleef het, en Paulus, wie die Here op ‘n baie kragdadige manier ontmoet het. Die belangrikste is egter dít: hoe pas jy hierdie vrug in jou lewe toe? Die Woord is nutteloos indien jy nie toelaat nie dat dit jou lewe positief verander.
Wat interessant was, was die deelname – elkeen neem deel en het ‘n opinie. Lede vra vrae, gesels onderling met mekaar, en dit gee verdere momentum aan die tema. In ons selgroep lewer almal ‘n bydrae, ongeag die ouderdom. Ons fasiliteerder vir die aand wie Galasiërs aangebied het, het op die hoof momente gefokus: wat ons glo (Galasiërs 1 en 2) – ons is geregverdig deur die geloof, nie deur werke nie; wie God is (Galasiërs 3) – God is ‘n belofte-maker en ‘n belofte-houer; wie ons is (Galasiërs 4) – ons nuwe identiteit in Christus; en geloof in aksie (Galasiërs 5 en 6) – hoe ons moet leef as ‘n voorbeeld vir andere, veral ongelowiges. Die aanbieding is egter lewendig en baie nuttig. Plekke wat Paulus noem sien ons op die kaarte agter in die Bybel, en ons besef dat dit soms nodig is om die geskiedenis en kultuur van die tyd te ken om alles in perspektief te plaas. Die aantekeninge kan ons nog lank help in ons studie van Paulus se brief.
Na ons gebed en samesang verdaag die groep, almal word afgesien, en daar daal ‘n rustigheid oor die huis neer. Ons ruim gou alles op en sommer vinnig is alles weer op sy plek. Ek bly egter tot laat wakker, dankbaar teenoor die Here vir hierdie pragtige mense wie op my pad gestuur is, met wie ons almal saam met mekaar ‘n pad stap. Meeste van alles is ek dankbaar vir God se Woord. Net die Woord. ‘n Woord wat voortdurend my lewe verander na God se beeld.
Vir meer besonderhede oor selgroepe, besoek www.netdiewoord.co.za.